Drie.

190 15 6
                                    

"My lewe was 'n oorlog:
Vol bloed en pyn en sweet,
maar jy het my verlos,
my van alles laat vergeet."

Die Moutons was soos ons. Dieselfde taal, kultuur, inkomsteklas en gebruike. Mnr. Mouton (vir my, oom Jean) was 'n argitek en mev. Mouton (Liefste tannie Diena) 'n rekenmeester. Oom Jean sou aanvanklik net 'n paar maande by Höchsberg werk, om my ouers se drome vir ons hotel se uitbreidings en "vars beeld" te bewaarheid. Toe die hotelgebou se verbeterings voltooi is, het my pa gereken dat die Moutons nog baie het om Hochsberg te bied. Eintlik weet ek dat my ouers net hartsvriende verlang het. Tradisionele Afrikaanse gesinne was skaars in die Drakens se hoogtes en oom Jean-hulle was gelukkig hier. So, oom Jean het hoof van terrein geword en tannie Diena was hoof van finasies.

Ek wonder partykeer wat Pierre na ons eerste ontmoeting op die trap van my gedink het. Ek het daardie aand aan tafel gehoor dat sy gesin vir 4 maande in Höchsberg sou woon en dat ek moes probeer om hom "soos 'n grootwordpêl" te laat voel. Dit was maklik vir my pa om te sê, want hy léwe vir mense en hul behoeftes. Dis hoekom ons hotel so goed vaar. My ma het voorgestel dat ons hulle die volgende aand vir ete oornooi. Dit was vir haar weer maklik, want sy léwe vir vermaak. Mense glimlag altyd om haar. Sy laat hulle so gemaklik voel. My pa was vreeslik gretig dat ons die Moutons behoorlik moes welkom heet, maar ek was heel rustig daaroor.

As 'n meisie wat totaal gemiddeld in enige en alle lewensaspekte is, waar het ek by die powercouple van Louis en Lida Breyton ingepas? My ouers was pynlik en onverstaanbaar ondersteundend teenoor al my gemiddelde prestasies en avonture. Ek wou iets meer wees. Ek wou húlle wees en dit het my gepla dat dit hulle nie gepla het nie. Hulle het geglo en vertrou dat ek eendag die hotel sou oorneem en hul nalatenskap uitstraal. Dus was dit 'n skok toe my ouers, vir die eerste keer in my lewe, my nie ondersteun het nie; toe ek vir hulle vertel ek wil kosmaak. Moenie verkeerd verstaan nie, hulle was mal oor my disse en beïndruk met my naweekpoedings, maar hulle het geglo dis presies dit: 'n naweektydverdryf. Kosmaak as stokperdjie? Ideaal! Kosmaak as beroep? Minder ideaal. Ek was bevoorreg met geld en ouers en liefde en ondersteuning. Ek het 'n maklike lewe gelei. Dis hoekom ek te skuldig gevoel het om myself jammer te kry, maar iets het bly knaag. My ouers het my passie verwyt. Hulle wou nie hê ek moes dit wat my laat glimlag najaag nie. Iets waarin ek uiteindelik goed was, was kosmaak. Iets waarin ek nie so goed was nie? Seuns. Veral nie oulikes met donker, donkerbruin oë en verskillende tipes smiles nie. Tog was ek 'n bietjie nuuskierig om meer omtrent Pierre Mouton te ontdek.

Na ete wou my ouers by die Moutons se woonstel omgaan om die opwindende nuus van 'n braai (ja, my ouers kan 'n braai soos 'n bal laat klnk) te gaan deel. Ek wou eers saamgaan, maar 'n vlugtige kyk in die spieël het my oë laat rek.
"Ok, nag, almal! Dankie vir die lekker kos, Mams," Ek was reeds halfpad in die gang af. "Lekker slaap!"
"Thalia..." het my ma geroep, "wil jy nie saamkom nie? Dan kan jy vir Pierre ook nooi."
"Ag, dis nie nodig nie. Mamma kan hom sommer nooi? Sê maar ek stuur groete of iets." Ek was al in my kamer toe ek 'n laaste "lekker slaap" uitroep.

Ek het my deur toegemaak, die lig afgesit en strompelend my bed probeer vind. 'n Sug het my lippe verlaat toe ek tussen die donskombers en duvet neersak. Ek was nie een van daardie meisies met natuurlike skoonheid nie. Toe ek en Pierre ontmoet het, het ek darem my gewone vakansiestyl vertoon: 'n bietjie onderlaag en darem maskara. Ek geniet dit om grimering te dra, nie omdat ek ontevrede met my looks is of 'n masker probeer dra nie, maar omdat dit my 'n bietjie interessanter laat lyk en voel. Ek was klaar gestort en grimeringloos toe ek daar op my bed in my hartjie-pyjamabroek en veels-te-groot Harry Potter t-hemp lê en besluit dat ek reg gekies het om by die huis te bly. Ek het Pierre Mouton daardie oggend eers ontmoet, ek wou hom darem nie dadelik al afskrik nie! Die braai sou anders wees. Ons albei sou hardop lag en gesels oor sy gesin en skool en mekaar leer ken. Ons sou albei heimlik besluit of ons met die ander oor die weg sou kom, of ons kon vriende wees.

Ek het tevrede onder die duvet ingekruip en planne gemaak vir die volgende dag. Ek het 'n lysie in my kop gemaak van als wat gedoen moet word, insluitend beplanning vir die braai. Ek het gedink aan Pierre en sy mooi oë toe my wimpers swaar begin word. Ek moes erken: ek wóú met hom vriende wees. Klaasvakie het nie op hom laat wag nie en ek het rustig aan die slaap geraak met gedagtes van 'n donkerkopseun met 'n spierwit glimlag wat die hele nag lank in my kop sou rondborrel.

TranetrekkerWhere stories live. Discover now